Franse Vreemdelegioen

Vlag van die Vreemdelegioen

Die Franse Vreemdelegioen (Frans: Légion étrangère) is 'n elite eenheid van die Franse leër wat in 1831 gestig is. Die legioen het, op 'n enkele uitsondering na, nog altyd bestaan uit mans van sewentienjarige tot onbepaalde leeftyd; daar is met ingang 2019 'n geskatte tien soldate in gevegsfunksies in die ouderdom van sestig jaar. Registrasie vir werwing is moontlik vanaf die ouderdom van 17 (minderjariges met ouerlike toestemming) tot 39,5 jaar (dit was voorheen 40 jaar). Alle offisiere is van Franse nasionaliteit, terwyl die res van die soldate van verskillende nasionaliteite is. Vrywilligers met Franse burgerskap word voorsien van 'n fiktiewe buitelandse nasionaliteit (gewoonlik Belgies) omdat Franse burgers nie toegelaat word om te dien nie. Nie-Franse soldate kan tot die hoogste offisiersrange vorder, in die praktyk is dit egter besonders moeilik omdat hulle nie by die Franse militêre akademie opgelei word nie. Nietemin is tien persent van die offisiere van nie-Franse oorsprong, en word hulle in die proses verplig om Franse burgerskap te verwerf.

'n Soldaat moet onder 'n nuwe identiteit aansluit, wat op elke nuwe rekruut van toepassing is. Dit was egter nie altyd die geval nie, en is onderhewig aan verandering. Na 'n jaar diens kan 'n soldaat onder sy eie naam dien. Die Legioen het in die verlede die reputasie gehad dat dit allerlei misdadigers gelok het. Vandag word die agtergrond van aansoekers op Interpol en Europol nagegaan. Die keuring is uiters streng; in 2006 is slegs een uit elke ses kandidate aangestel. 'n Soldaat teken aanvanklik 'n kontrak vir vyf jaar. Na drie jaar diens kan die dienspligtige Franse burgerskap verwerf, mits hy gedurende daardie drie jaar diens geen kriminele oortredings begaan het nie. Franse nasionaliteit word slegs verkry onder die oorspronklike geboortenaam en geboortedatum en slegs as die persoon nie 'n (wesenlike) kriminele oortreding begaan het nie. Na vyf jaar diens verkry 'n soldaat staandemag status, wat beteken dat hy dieselfde regte kry as enige ander Franse soldaat buite die legioen. Soos sommige Franse leër-eenhede, is daar geen vereistes ten opsigte van minimum of maksimum liggaam se lengte nie. Kennis van die Franse taal is nie nodig vir toegang nie. Soldate kan na vyf jaar hul kontrak verleng. Na vyftien jaar diens is daar 'n klein pensioen wat verkry kan word. Hoe meer diensjare en hoe hoër die laaste rang van die betrokke persoon was, hoe groter is die pensioen.

Na die Tweede Wêreldoorlog, tot die onafhanklikheid van Algerië (1962), was Duitsers verreweg die grootste kontingent in die Legioen, gevolg deur Italianers, Belge en Franse. Sedert die eeuwisseling kom die meeste soldate uit Oos-Europa en die Balkan-skiereiland.

Alhoewel vroue nie eksplisiet uitgesluit word nie, word daar volgens die amptelike standpunt, as gevolg van die gebrek aan aparte fasiliteite, slegs manlike soldate gewerf. Verskeie soldate het aangekondig dat hulle die legioen sal verlaat indien die tradisie verbreek word. Daar word derhalwe gevrees dat die Vreemdelegioen deur mans as 'n minder aanloklike opsie beskou sal word sou vroue ook toegelaat word. Vroulike offisiere en onderoffisiere is in sommige posisies bedrywig, maar hulle dra nie die tradisionele kentekens van die Vreemdelegioen nie. Die hoofkwartier is geleë in Aubagne, net buite Marseille.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy